Wednesday, November 28, 2012

Gebed
Kromgetrekte oumens hande, gevou in gebed,
Met kersvlam wat skadus gooi oor sy familie Bybel
waaruit geleer word van God se wet

“Here, hou u hand van beskerming oor my seun
die appel van my oog, oor wie my hart steeds ween
Advokaat, geagte man
maar al wat ons nou deel is ‘n van
Ek vra u asseblief, seën hom en sy gesin
En ook sy naastes en die wat hy bemin

Seën ook my dogter, die punt van my hart
maak haar gelukkig, neem weg haar smart
Vergewe haar al haar sondes, sy is nog so jonk
Verblind deur die liefde van ‘n aantreklike klonk

En dan is daar my vriende met harte van goud
mense van inbors, al is ons almal oud
Deel mekaar se vreugdes, verdriet en berou
Eendag sal hul help, om my graf te grou

Laastens bid ek vir myself
op my lewenspad, so sonder ‘n wederhelf
niemand om my hand vas te hou
styf teen my lyf in die winterkou

As dit U wil is, beskerm my vanaand
en bid ek vir goeie gesondheid, vir die res van die maand
‘n werkie sodat ek myself kan onderhou
‘n maaltyd of twee om die hongerpyne in toom te hou”

Blaas dood die flikkerende kersvlam
bêre die familie Bybel onder sy kop
ineengekrimp, dounat en klam
lê hy opgekrul en bewend in sy boks pandok

‘n Traan rol oor ‘n oumenswang
want saans, onder die sterre
dis wanneer hy na sy kinders verlang...

No comments:

Post a Comment